Onder biologiese aanpassing verstaan ons die veranderings in eienskappe van organismes waardeur hulle in staat gestel word om beter in hul omgewing te funksioneer. Die funksie van biologiese aanpassing is om die oorlewingskanse van die plant, dier of mens as individu te vergroot.
Tydens sy leeftyd moet die plant, dier of mens voortdurend aanpas sodra sy omgewing verander, byvoorbeeld as dit natter, kouer, droër of ligter word. Daarnaas bestaan daar ook 'n vorm van aanpassing wat oor generasies strek. Dit is hier waar Charles Darwin se evolusieteorie ter sprake is, naamlik dat goed aangepaste diere hulle besondere aanpassingsvermoë erflik aan hulle nakomeling oordra, en dat swak aangepaste organismes deur seleksie uitsterf.